Andrew se koei

21 Apr

Vir veeartse(veral op die platteland) is n “normal day at the office” n heel vreemde konsep. Elke dag is gewoonlik totaal ONvoorspelbaar. Miskien is dit deel van die opwinding van ons beroep.

Hierdie betrokke dag in Maart 1999 was maar net nog n “gewone” ONvoorspelbare dag, toe die oproep kom om n melkkoei  te besoek , op die bergpad tussen Albertinia en Herbertsdale. Andrew is n wynboer, maar het  daardie jare nog gemelk .

Teen die tyd wat hy my gebel het, het  hy alreeds die gebruiklike boeregeneeskunde toegepas vir n melkkoei wat bly le. Dit is nou melkkoors inspuiting, die koei probeer optel met toue, ens. Hierdie koei wou egter niks weet nie en dis toe dat hy my bel. Ek het so 5uur die middag daar aangekom, net na melktyd. Die betrokke koei was Andrew se beste melkkoei. Sy het voor melktyd in die wagkraal gaan le en dis waar ek haar gekry het.  Die ander koeie was al reeds weer oppad weidings toe.

N koei wat le met melkkoors(n bloed kalsium tekort), lyk gewoonlik soos een wat slaap en reageer glad nie. Dikwels le hulle plat. Die vreemde ding met hierdie koei was dat sy nie gele het nie maar regop gesit het (kompleet soos n hond) op haar boude met haar voorbene reguit. Ek het haar ondersoek en kon nie eintlik iets anders as melkkoors simptome vasstel nie. Daar het n vreemde reuk in die lug gehang maar as n mens baie ure in melkkoeie se wagkraal deurbring is jou reuksintuig in elk geval al redelik oorlaai met die gebruiklike reuke geassosieer met gewone bees uitskeiding, so ek het nie verder aandag daaraan gegee nie. Ek was raadop. Ek en Andrew ry toe maar na die weidingskamp om die gedrag van die res van die kudde te bekyk. Gewoonlik mors Andrew se koeie nie baie tyd om weer by die geil lusernkamp op die wal van die Gouritsrivier te kom nie. Wat egter opgeval het is dat baie koeie net nie belanggestel het om te loop nie, die getoet van die bakkie en geblaf van sy skaaphonde ten spyt. Party koeie het half waggelend geloop en die beeste wat darem die weidingskamp gehaal het , was ook traag om te beweeg of te vreet en party het sommer net gaan le asof hulle moeg is. Ek was hande in die hare. Dit het begin aand word en die melkjong kom toe ook nog aangehardloop om te se die koeie het nie naastenby die tenk volgemelk soos gewoonlik nie. Hier was duidelik groot fout! Ernstige kudde problem soos vergiftigings geassosieer met weidings of drinkwater het deur my kop begin flits…

Ons is onverrigtersake terug na die topkoei om te kyk of sy nog leef, en ja wragtig, daar sit sy nog net so regop soos n hond, soos n halfuur tevore. Die volk het intussen die kraal (waar sy gele het) begin skoonspuit, en dis toe dat die vreemde reuk van vroeer my duideliker tref. Dit was iets wat ek al voorheen geruik het, maar nie in n koeikraal nie. Om een of ander duister rede, is ek herinner aan my  studentedae… en dis toe ek my neus omtrent teen die koei s’n sit om haar asem ordentlik te ruik, wat dit my tref. Die koei stink na wyn! Die koei is dronk!

Soos ek gese het, Andrew is eintlik n wynboer en omdat dit parstyd was, was dit sy gebruik om die druiwedoppe in die koeie se voer in te meng. Ek het Andrew begin uitvra oor sy voedingsbestuur en stadig maar seker het die legkaart  inmekaar begin pas. Gewoonlik voer hulle die doppe dieselfde dag waarop die druiwe geoes is, maar hierdie keer was daar te veel, en die doppe het gele vir so 2 dae en begin gis, voordat dit aan die koeie gevoer is. Dit verklaar toe natuurlik ook hoekom die res van die koeie so traag en waggelend geloop het. Ek en Andrew en die volk het tevergeefs probeer om die koei op haar voete te kry en haar toe maar daar gelos om haar roes af te slaap. Die volgende more was sy op en die produksie van die hele kudde  was ook sommer weer op standaard.

Die les te leer? (Dis n ope vraag of dit op mense ook van toepassing gemaak kan word):  Moenie te veel van n babbelaas koei verwag nie,  moet  nie dink jy kan sense in haar kop inpraat terwyl sy onder die invloed is nie en  moet haar nie probeer opjaag as sy eers gaan le het nie.