Boulevard Dierehospitaal tot die redding…

21 Apr

Wanneer dit kom by die ophef van slange, die gevreesde spesie van die diere wêreld, is daar min wat dit so sterk soos ek ondersteun! My belangstelling in hierdie geheimsinnige, grasieuse en hoogs effektiewe predatore het begin op die ouderdom van tien en alhoewel my ouers gehoop het dat hierdie fasinasie net ‘n verbygaande fase sou wees, is slange vandag nog deel van my lewe.

In die Boland area waar ons bly, met ons pragtige plase en berge, kom ons gereeld in aanraking met slange. Met hierdie hoeveelheid blootstelling kom daar maar altyd potensiële risiko vir mense en troeteldiere, veral honde, maar ons kan eintlik nie kla nie. Van die ongeveer 150 slang spesies in Suider Afrika, word slegs 10% gereken as gevaarlik vir mense en van daardie hoef ons net 2 spesies in ons area te kan identifiseer, die pofadder (Bitis arietans) en die Kaapse kobra (Naja nivea). Ja, ons het boomslange en ja, hulle word geklassifiseer as die giftigste slang in Suid Afrika, maar hulle strategie is om te vermy en naby kontak met hierdie vredeliewende en rustige slange is skaars.

Ek kan aangaan oor die mooi van slange, die belangrike rol wat hulle in ons lewens speel, of ons daarvan hou of nie, en die irrasionele vrees vir ‘n dier wat maar slegs ‘n paar gram weeg. Ek kan preek oor hoe ons indring in hulle natuurlike habitat en die invloed wat ons op hulle getalle het, maar ek aanvaar dat die meeste mense glad nie van hulle hou nie. Inteendeel, mense is bang vir hulle en vir baie is die enigste goeie slang ‘n dooie slang!

Vir die voordeel van beide partye het ek begin om ‘n probleem slang verwyderings diens aan te bied in en om die Paarl. Diere wat gevind en gevang word, word weer op dieselfde dag  vrygelaat in ‘n bewaringsarea naby hulle natuurlike plek, maar verwyderd van areas waar daar geboue  en baie aktiwiteit van mense is. Ek het het al suskesvol ‘n hele paar kobras, pofadders en huisslange op hierdie manier geskuif oor die laaste paar jaar, maar daar is altyd daardie een spesiale geval…by ‘n spesifieke huis in Suider Paarl is daar ‘n baie aktiewe, baie groot Kaapse kobra. Nou kyk, hierdie is ‘n baie giftige en potensieël gevaarlike dier en die eienaars het ‘n klein hond, so hulle sal verkies om haar te skuif. Op ‘n sonnige somersdag kry ek ‘n oproep om haar te kom verwyder van die erf. Met my aankoms kan ek dadelik die rede vir die probleem sien. Dis ‘n pragtige, inheemse tuin met digte plante, ‘n boorgat gevul met oorgenoeg water, ‘n sprankelende swembad, voëls wat lustig sing en ‘n groot kompos hoop op die punt van die tuin. Daar is paddas, akkedisse en veldmuise…hierdie is slang paradys!

Na ‘n lang, onsuksesvolle soektog besluit ek om eerder to fokus daarop om die eienaar van die huis te kalmeer en inligting te gee aangaande die slange se normale gedrag. Van wat sy my vertel het hulle hierdie spesifieke slang al telkemale gesien in die laaste 8 jaar! Dis my opening…Ek verduidelik dat hierdie slang deel is van die ekosisteem wat die eienaar s so suksesvol geskep het in hulle inheemse tuin en dat dit nog altyd hier was sonder om ‘n probleem te veroorsaak. Ek verduidelik dat hierdie diere baie eerder kontak wil vermy en dat geen slang uit sy pad uit sal gaan om ‘n mens aan te val nie. Ek wys haar ook daarop dat hierdie spesifieke slang suksesvol was daarin om die ongewensde aandag van haar hond te vermy, wat in elk geval baie meer geïntereseerd daarin is om langs die swembad te lê! Na verskeie goeie argumente van my kant af en lang gesprekke oor orgideë en bome, voel ek seker dat ek die eienaar se vrese oorkom het. Op pad na die hek toe, vang my oog ‘n klein Karoo sweepslang wat in ‘n malva lê. Vol entoesiasme wys ek vir die eienaar nog een van haar nuwe vriende, net vir die slang om so vinnig soos lig weg te seil! Ek verlaat die huis met ‘n eienaar wat meer bekommerd as ooit is…sy het geweet van een, en toe was daar twee!

‘n Paar maande later bel dieselfde eienaar my oor dieselfde kobra. Hierdie keer is die slang uit in die oopte en dit het ‘n padda vir middagete gevang. Die eienaars hardloop vir hulle lewens om die praktyk te bel, maar teen die tyd dat ek minute later daar aankom is die slang weg. Dit het in ‘n drein ingeglip en ten spyte daarvan dat ons dit probeer uitspoel kom dit nie uit nie. Weereens verlaat ek hulle met leë hande, maar ons besluit op ‘n strategie – die eienaars sal my slegs bel as hulle die slang duidelik kan sien en dan sal hulle die slang in die oog hou vanaf ‘n veilige afstand. Dit sal vir ons die beste kans bied om haar uiteindelik te vang en die eienaar se vrese hok te slaan.

En dan, ‘n paar weke later, kom die oproep. Hierdie keer het die eienaar egter ‘n pofadder in haar voël voerder gesien! Waar kobras vinnig wegseil van gevaar af, volg pofadders ‘n totaal ander strategie. Aangesien hulle redelik mollig en stadig is, vries hulle en maak staat op hulle uitstekende kamoeflering om nie gesien te word nie.  Maar as ‘n hond ‘n pofadder sien en voor dit op en af begin spring en blaf en byt daarna…kom ons sê maar net dat daar ‘n rede is waarom meeste pofadder byte in honde in die gesig is! Ek vra die eienaar of sy die slang kan sien en sy verseker my dat sy daarna kyk terwyl ons praat. Hierdie is my kans om uiteindelik iets reg te kry! Ek hardloop uit…haak, check. Vangstok, check. Houer, check. Hier gaan ons!

Met my aankoms word ek begroet deur ‘n baie seuweeagtige stem oor die interkom by die hek. Die eienaar maak dadelik die hek oop met die afstandbeheer. Sy gaan nie hierdie keer vir ‘n oomblik haar oë van die prys afhaal nie! Soos ek by die kombuis instap ontmoet die eienaar se dogter my en wys my waar die voël voerder is. Sy hou haar twee kleuters terug. Hierdie is immers ‘n gevaarlike situasie. Soos ek om die hoek van die huis kom sien ek die eienaar raak. Sy wys vir my na die voël voerder en staar na die vyand deur haar vêrkyker…ons het mos besluit  dat sy op ‘n veilige afstand moet bly! Met spanning wat styg loop ek na die voël voerder…hierdie is geen tyd om gebyt te word nie. Ek leun oor om beter te kan sien en dan glimlag ek, laat val die gereedskap en haal uit die voerder ‘n pragtige, groot, o-so-skadelose…..PADDA!

Ons het almal lekker gelag…deur die vêrkyker het daardie ronde oë en kop vol vratte sowel as ‘n goeie dosis verbeelding en vrees die eienaar toegesluit gehou in haar huis vir die grootste deel van die oggend! Die padda het sy rol gespeel daarin om die kinders te leer van ekologie en goeie buurmanskap voordat dit veilig in die tuin vrygelaat is.

En die kobra? Ek sal met haar opvang in die lente!