Kat Vigs (FIV) en Leukemia (FeLV)

12 Nov

FIV (Kat Vigs) en FeLV (Leukemia) is twee verskillende siektes wat in katte aangetref word en wat die imuunsisteem van die pasiënt aantas. Beide siektes word deur retrovirusse veroorsaak en word op soortgelyke wyse versprei. Mannetjie katte word meer algemeen geaffekteer, veral ongekastreerde mannetjies wat geneig is om rond te loop.

Kitten

 

Wat die virus doen:

FIV en FeLV word beide in speeksel afgeskei.

FIV word hoofsaaklik versprei deur bytwonde. Die virus kan ook versprei word deur dieselfde water- en kosbakke te deel of mekaar skoon te maak, maar dit gebeur ongereeld. Die virus kan ook vanaf ‘n ma-kat na haar babas oorgedra word deur die uterus en deur haar melk.

FeLV word ook versprei deur bytwonde, maar word ook maklik versprei deur dieselfde water- en kosbakke te deel en mekaar skoon te maak. Die virus kan ook vanaf ‘n ma-kat na haar babas oorgedra word deur die uterus, melk en deur die babas skoon te lek.

Beide virusse tas die witbloedselle aan.  DIt veroorsaak dat die imuunsisteem swak raak en nie die liggaam kan beskerm teen ander virale, bakteriese en swambesmettings nie.

Geaffekteerde katte is ook meer geneig daartoe om sekere soorte kankers te ontwikkel.

 

Simptome:

Katte met FIV en FeLV kan soms vir jare sonder enige simptome leef.

Katte wat geaffekteer is het dikwels gereelde episodes waartydens hulle siek is met periodes waartydens hulle gesond voorkom tussen-in.

Die simptome wat getoon word is gewoonlik as gevolg van sekondêre infeksies en sluit die volgende in:

  • Verlies aan eetlus
  • Gewigsverlies
  • Verwaarloosde pels
  • Vergroting van limfkliere
  • Koors
  • Bleek tandvleis
  • Gereelde episodes van siekte
  • Diaree

Diagnose:

FIV en FeLV kan gediagnoseer word met ‘n bloedtoets. Beide siektes word normaalweg gelyktydig getoets.

 

Behandeling:

Hierdie siektes kan nie gesond gemaak word nie.

Behandeling word gemik daarop om die pasiënt te beskerm teen sekondêre infeksies en hom/haar dadelik te behandel indien daar wel ‘n infeksie ontstaan.

Geaffekteerde katte moet ‘n goeie kwaliteit kos kry. In sommige gevalle word ‘n multivitamien aanvulling gebruik.

Imuun- ondersteunende terapie kan gebruik word om die imuunsisteem te probeer versterk in ‘n geaffekteerde kat.

 

Voorkoming:

WAHG adviseer dat alle katte teen FeLV ingeënt word op die ouderdom van 9 weke en 12 weke. Daarna word die enting jaarliks herhaal.

Katte moet ook gesteriliseer word op die oudersom van 6 maande om rondlopery en aggresiewe gedrag te probeer beperk.