Hokhoes

12 Nov

Hokhoes is ‘n hoogs aansteeklike siekte van die lugweë van honde.

Die siekte word veroorsaak deur twee viruses en ‘n bakterium wat versprei word deur die lug of deur direkte kontak met die neus en/of bek van ‘n geaffekteerde hond.

Kennel cough1

 

Wat die virus doen:

‘n Kombinasie van Canine Parainfluenza virus, Canine Adenovirus-2 en Bordetella bronchiseptica (‘n bakterium) veroorsaak gewoonlik die kliniese tekens van Hokhoes.

Canine Parainfluenza virus beskadig die boonste lugweë en veroorsaak ‘n droë hoes en waterige afskeiding by die neus.

Canine Adenovirus-2 beskadig selle in die neus, keel en lugweë.

Bordetella bronchiseptica verlam die haartjies in die lugweë en verhoed die imuunsisteem om te reageer teen die infeksie.

 

Simptome:

Simptome kan 3-10 dae neem nadat die siekte opgedoen is voordat dit eers sigbaar raak.

Die siekte begin met ‘n droë, harde hoes met slym wat na die tyd opgebring word. Die hond se lewenslus en aptyt word gewoonlik nie geaffekteer nie.

In sommige gevalle kan die siekte vererger na ‘n brongitis en/of longontsteking wat ‘n nat hoes, neus afskeiding, eetlus verlies en lusteloosheid sal veroorsaak.

In ‘n huishouding met meer as een hond sal die ander honde ook dikwels geaffekteer word.

 

Diagnose:

‘n Geskiedenis van moontlike blootstelling aan die aansteeklike organismes maak die siekte hoogs waarskynlik. ‘n Kliniese ondersoek word gedoen om die siekte te diagnoseer.

 

 

Behandeling:

Die kondisie sal gewoonlik self uitwoed en hoef nie behandel te word as die hond goed eet en lewenslustig is nie.

Indien die hoes erger of nat raak, of daar ‘n verlies aan aptyt is, moet die siekte behandel word. ‘n Kombinasie van antibiotika en anti-inflammatoriese middels word gewoonlik gebruik.

 

Voorkoming:

Hokhoes kan voorkom word deur die honde te laat inent.

Die primêre enting bestaan uit 2 entings wat 3-4 weke apart gegee word.

‘n Opvolg enting word jaarliks gegee.

Neem asb kennis dat sommige honde wat inentings ontvang het steeds die kondisie  kan opdoen as hulle blootgestel word aan ‘n groot hoeveelheid van die aansteeklike organismes,maar die kondisie gaan gewoonlik vinnig verby.