Equine Herpes Virus uitbraak, Desember 2015

15 Dec

Beste Perde Eienaar                                                                                          08 Desember 2015

 

Meeste van julle is reeds bewus van die uitbraak van Equine Herpes Virus by Mistico Stalle.

 

Ek wil graag jou aandag op die volgende feite vestig sodat almal die siekte, die epidemiologie en die maniere waarop jy jou perd kan beskerm beter kan verstaan. Dit sal die risiko dat jou perd die siekte opdoen in die toekoms verminder.

 

Hier volg ‘n paar feite oor Herpes:

  1. Herpes is ‘n virale infeksie wat die respiratoriese sisteem, die sentrale senuwee sisteem en die reproduktiewe sisteem kan aantas. Die moontlike simptome sluit in ‘n neus afskeiding (verkoue en griep simptome), neurologiese simptome waar die perde ataksies (‘wobbly’) of selfs verlam raak en aborsies in laat dragtige merries, stilgeboortes of swak vulletjies.
  2. Equine Herpes Virus (EHV) kom voor in Tipes 1-5, met tipe 4 die meer algemene vorm wat gewoonlik respiratoriese simptome veroorsaak in jonger vullens. EHV tipe 1 veroorsaak aborsies en die gevreesde sentrale senuwee simptome van ataksie en verlamming. Tipe 1 kan ook respiratoriese simptome veroorsaak. Tipe 4 veroorsaak in skaars gevalle neurologiese tekens.
  3. Perde is dikwels asimptomatiese draers van EHV en kan vir lang tye die virus versprei via neus afskeidings, veral as hulle gestres word. Stres is algemeen tydens vervoer, deelname in skoue, die verskuiwing van perde na ‘n nuwe area ens.
  4. Die inkubasie periode vir EHV is 5-10 dae. Die tipiese simptome is ‘n hoë koors, lusteloosheid, swak eetlus en in sommige gevalle neurologiese simptome soos ataksie, blaas verlamming en algemene verlamming. In dragtige merries kan aborsie plaasvind. Afhangende van die tipe, sal meeste perde slegs ‘n ligte koors of ligte respiratoriese simptome toon, terwyl ander die neurologiese simptome kan ontwikkel. Neurologiese simptome kan soms tot 2 weke na die oorspronklike siekte simptome voorkom of kan ontwikkel sonder dat enige ander simptome gesien word.
  5. Die verspreiding van die virus deur die neus kan plaasvind vir enigiets van 4 dae tot ‘n maand. Die langer tydperk van verspreiding word dikwels gesien met die neurologiese tipe van EHV-1.
  6. Die beheer van die verspreiding van EHV sluit in die isolasie van geaffekteerde perde, goeie antiseptiese en higiëniese protokol en die gebruik van entings.

 

Equine Herpes is ‘n algemene siekte by perde. Sommige perde kan as vullens siek raak en bly dan draers vir die res van hulle lewens. Die neurologiese tipe van EHV-1 is nie algemeen nie, maar word wêreldwyd en in Suid-Afrika al meer gereeld gesien.

 

Die voorsorgmaatreëls wat perde eienaars kan neem om die risiko van EHV te verminder is die volgende:

  • Verminder stres soveel as moontlik
  • Verhoed direkte en indirekte kontak tussen perde by skoue deur nie tuig, waterbakke ens. te deel nie
  • Entings: entings moet gegee word as ‘n primêre enting met ‘n opvolg enting een maand later en dit moet dan elke 6 maande herhaal word. Dit is belangrik om te besef dat entings die verspreiding van die virus sal beperk en dus die voorkoms van uitbrake en kliniese siekte sal verminder. Die enting kan egter nie die kliniese siekte of voorkoms van neurologiese simptome verhoed nie, maar sal die die siekte se duur verkort en die simptome ligter maak. Inentings word dus aanbeveel.

 

Indien jy enige vrae het is jy welkom om my te kontak by Wellington Dierehospitaal, tel 021 8731196, of op my selfoon 083 631 4603.

 

Groete

 

Dr Deon van Tonder