Hondsdolheid

12 Nov

Hondsdolheid is ‘n dodelike siekte wat veroorsaak word deur ‘n virus. Dit kan alle soogdiere, insluitende mense, aantas. Die virus is teenwoordig in speeksel en word versprei deur bytwonde.

Rabies1

 

Wat die virus doen:

Nadat die virus versprei is deur ‘n bytwond, vermeerder dit in die weefsel om die wond en dring dan deur na die senuwee punte in en om die wond. Die virus versprei dan met die senuwees na die sentrale senuwee stelsel en kom dus vinnig by die brein uit. Die simptome word gewoonlik eers op hierdie terminale stadium gesien.

Ongelukkig is die virus reeds teenwoordig in die speeksel voordat simptome gesien word en kan ‘n dier dus Hondsdolheid versprei voordat hy/sy enige simptome toon.

 

Simptome:

Die simptome wat gesien word kan baie verskil, maar die volgende word dikwels gesien:

  • Veranderinge in gedrag en houding
  • Agressie
  • Verlamming
  • ‘n Onvermoë om te sluk – hierdie diere lyk soms asof hulle bang is vir water
  • ‘n Vrees vir lig
  • Swakheid/swak koördinasie
  • Abnormale kwyling
  • Abnormale vriendelikheid by ‘n wilde dier

 

Diagnose:

Die diagnose word gebasseer op ‘n sterk suspisie as gevolg van die kliniese simptome wat gesien word. Omdat Hondsdolheid so ‘n gevaarlike siekte is word genadedood (uitsit) toegepas. Die wet vereis dat die staatsveearts in kennis gestel moet word van ‘n moontlike Hondsdolheid geval. Die staatsveearts sal dan ‘n toets laat doen op die dier se brein om Hondsdolheid te bevestig. Dit word gedoen sodat enige mense wat in kontak met die dier was dadelik gevind en behandel kan word.

 

 

Behandeling:

Sodra kliniese simptome van Hondsdolheid gesien word, is daar geen behandeling nie en sal daardie pasiënt sterf.

Daar is geen medikasie wat Hondsdolheid in diere kan genees nie.

Indien ‘n mens gebyt word deur ‘n dier met Hondsdolheid moet hy/sy die wond deeglik was en ontsmet. ‘n Dokter moet dadelik gesien  word. Hulle sal ‘n immunoglobulin inspuiting gee en ‘n reeks inentings begin om te probeer om die vordering van die siekte te stop.

 

Voorkoming:

Die enigste manier om Hondsdolheid in troeteldiere te voorkom, is deur inentings. Hondsdolheid inentings word in Suid-Afrika deur die wet vereis.

Die inentings word gegee aan jong hondjies op 3 maande ouderdom en weer 1 tot 12 maande later. Opvolg inentings word dan elke 1 tot 3 jaar gegee.

WAHG gebruik ‘n kombinasie inenting wat Hondsdolheid bevat. Ons doen die inenting dus jaarliks.